Deur Yolandie Mostert (Desember 2022)
Ons agtergrond
Ek en Louis het albei in kerke grootgeword waar woorde soos wegraping en groot verdrukking nie vreemd was nie. Ons het, soos die meeste in daardie kerke, geglo dat Jesus se koms uit twee dele bestaan. Dat Hy eers stilletjies gaan kom om Sy kerk van die aarde te kom wegraap. Hierdie gebeurtenis sal chaos veroorsaak as gevolg van die hoeveelheid mense wat ewe skielik net gaan verdwyn. Reg daarna, begin ‘n periode wat bekend staan as die groot verdrukking. Dit sal ‘n tydpwerk wees van intense vervolging en marteling van diegene wat tot Christus kom in daardie tydperk. Ons is ook geleer dat die Antichris in hierdie tyd sy regering op aarde sal oprig. Dat hy uit Jerusalem sal regeer, ‘n vredesverbond stig met die Joodse volk en later hierdie verbond sal verbreek. Dit sal die tydperk van intense Joodse vervolging beteken. Na die sewe jaar sal Jesus terugkeer tot redding van die Jode. Almal sal Hom sien en Hy sal die Antrichis oorwin. Na hierdie gebeurtenis, begin die duisend jaar van vrede. Ek glo hierdie kort opsomming verduidelik baie mense se insig.
Die probleem
Alhoewel ek (Yolandie) baie belanggestel het in eindtyd gebeure, het my studies bestaan uit die lees van andere se boeke en leringe. Ek moet tot my skande erken dat ek nooit self ‘n studie probeer aanpak nie. Ek het die Skrifte opgesoek, maar slegs die wat in die boeke en leringe aangehaal was. Dan het ek die interpretasies van mense gelees en dit my oortuiging gemaak. Alles het vir my mooi sin gemaak. Volgens my het ek die eindtydgebeure mooi onder die knie gehad.
Ons prentjie word geskud
In 2019, het ‘n goeie vriend van ons, wat self ‘n boek oor die eindtydgebeure geskryf het, ons prentjie goed deurmekaar kom maak. Hy het ontdek dat daar nie ‘n wegraping voor die verdrukking sou plaasvind nie. Aanvanklik moet ek bieg dat ek dit van my af weggestoot het. Ek het gevoel dat dit nou onnodige komplikasies veroorsaak, komplikasies waarvoor ek nie kans gesien het nie. Mettertyd het ek tog Mattheus 24 van begin tot einde gelees en daar het ‘n paar ongemaklike vragies begin opdyk.
Om die teendeel te bewys
Uit, noem dit maar, rebellie, besluit ek toe om vir die eerste keer in my lewe my eie studie aan te pak. Ek wou nie van enige bestaande boeke of leringe gebruik maak nie. Ek wou vir myself uitvind wat die Skrif sê. En wat al die Skrifte sê. Teen hierdie tyd het ek besef dat mense soms net sekere Skrifte aanhaal en gebruik en suutjies dié ignoreer wat nie inpas by hulle boodskap nie. My motief was om die teendeel te bewys. Ek het besef dat as ek enigsins met hierdie vriend van ons in ‘n redenasie wou betrokke raak, ek my storie bitter goed moes ken. Dit was dus my dryfkrag. ‘n Behoorlike studie om hom verkeerd te bewys.
Ontnugtering
Ek het stadig begin om elke liewe Skrifgedeelte rakende die eindtyd te lees. Hoe meer ek gelees het, hoe meer het ek besef dat ons dit heeltemal verkeerd gehad het al die jare. Dit het letterlike gevoel asof iemand my eindtyd legkaart hoog in die lug opgetel het en in duisende stukkies laat spat het. Ek het nie meer geweet wat ek glo nie of hoekom ek dit glo nie. My kop was so deurmekaar. As iemand in daardie maande wat gevolg het vir my gevra het wat ek geglo het oor die eindtyd, kon ek geen antwoord gee nie. Ek het eenvoudig nie meer geweet wat is leuen en wat is waarheid nie. Dit was die beste ding wat met my kon gebeur het.
Herbou die puzzle
Deur die genade van ‘n liefdevolle Vader, kon ek dit foute in my legkaart begin herken. As elke Skrifverwysing met ‘n legkaartstuk verwys kon word, kon ek sien hoe half gebou my legkaart eintlik was. Daar was soveel Skrifte wat nie deel van die legkaart gevorm het nie. Ek kon ook die inforseerde stukke sien. Ek onthou as jong kind het ek soms so gefrustreerd geraak om die regte legkaartstuk te vind, dat ek sommer enige stuk wat amper reg gelyk het, in daardie spasie probeer indruk. Dit het baie met blou lug en water gebeur. Eintlik is dit net ‘n sinnelose ding om te doen wat tot niks bydra nie. Saam met die Heilige Gees het ek stadig maar seker my legkaart weer begin bou. Hierdie keer met dit wat ek self uit die Skrif ontdek het. Aanvanklik was daar ‘n hele klomp stukke wat op die ‘ek weet nie’-hopie beland het. Ek wou nie weer die fout maak om ‘n stuk in te druk waar dit nie hoort nie.
My metode
Ek het elke Skrifgedeelte as ‘n legkaartstuk hanteer. Ek het dit uitgeskryf of uitgedruk. Op ons eetkamertafel was daar verskillende opskrifte. Baie soos wanneer jy legkaartstukke per kleur uitsorteer. Wanneer ek iets gelees het oor die Dag van die Here, het daardie Skrifgedeeltes op daardie hoop beland. Wanneer ek iets gelees het oor die son wat verkleur, het dit op daardie hopie beland. Sommige Skrifte het op meer as een hoop beland. Dit het my in ‘n groot mate gehelp om my kop weer georden te kry.
‘n Logiese volgorde om eindtyd gebeure te verstaan
Wanneer mense graag die eindtyd gebeure wil begin bestudeer, maak hulle dadelik hulle Bybels by die boek Openbaring oop. Daar spring hulle weg met groot ywer en teen die tyd wat hulle by hoofstuk 7 kom, raak die simboliek oorweldigend en gooi die meeste tou op. Sommige mense het dit al soveel keer probeer dat hulle regtig glo dat dit onmoonlik is om enige iets van die eindtye te kan verstaan en dat ons dit eerder aan geleerde teoloë moet oorlaat. Ek het besef dat ek ‘n ander roete gaan moet volg as ek wil verstaan. As ek terugkyk terwyl ek hierdie tik, kan ek sien dat die logiese volgorde inspirasie vanaf die Heilige Gees was. Ekself sou dit nie kon uitwerk nie.
‘n Tydlyn
Saam met al die hopies op my eetkamertafel, het ek ook ‘n groot tydlyn geteken. Ek het niks ingevul wat beinvloed kon word deur my vorige kennis nie. Ek wou nuut begin. Soos wat ek dinge raak gelees het wat ek met sekerheid kon vasmaak, het ek begin invul. Ek moet erken, dit was nie ‘n maklike taak nie. Saam met die uitdagings van ‘n logiese benadering, moes ek met my emosies en selfverwyt deel. Ek kon nie glo dat ek so verkeerd was nie. My trots het ‘n stewige hou gekry. Ek het ook geworstel met wat ander hiervan sou sê as ek dit moes begin deel het. En natuurlik, hoe ek dit sou deel. Ek dink dit was nog ‘n groter motivering om seker te wees van my uitkoms.
Die stappe
Die punt van die tou: Mattheus 24
Ek het besluit dat die beste plek om te begin Mattheus 24 is. Net soos wat ons vandag graag wil weet wat aan die einde van die tyd gaan gebeur, was die dissipels ook nuuskierig. Hulle het vir Jesus gevra en Hy het in eenvoud stap vir stap vir hulle verduidelik. Hy het reguit, duidelik en eenvoudig verduidelik. Jesus het dit in volgende verduidelik. Dit gaan gebeur, daarna dat, dan die volgende ensovoorts. Ek het onlangs ‘n boodskap gelees van iemand wat sê dat ons nie Mattheus 24 moes lees nie, maar dat ons dit eerder moet interpreteer. Ek dink dis verkeerd. Jesus het nie in Mattheus 24 in gelykenisse gepraat nie. Hy het met Sy dissipels ‘n gesprek gevoer as die eerstes wat die Evangelie van die Koninkryk moes verkondig. Baie mense sê dat Jesus met die dissipels as Jode gepraat het en nie as diegene wat glo in die Seun van God nie. Ek voel dis ook oneerlik. As ons hierdie uitkyk het, moet wonderlike hoofstukke soos Johannes 14 en 15, dan ook so ‘geinterpreteer’ word. Ons kan nie eenoogig na die Skrifte kyk en dit laat sê wat ons graag wil hoor nie.
Daniël
Die volgende stap was maklik om te volg. In Jesus se verduideliking in Mattheus 24, het hy die volgende stap gegee. In vers 15, verwys hy die dissipels terug na dit wat die profeet Daniël gesê het. Ek glo die dissipels was wel bekend met wat die profete gesê het. Jong seuns het onderrig in die Torah en die profete ontvang. Hierdie stap was vir my baie belangrik in die invul van ‘n tydlyn. Jesus noem sekere dinge wat gaan gebeur en sê dan presies op watter punt in tyd Daniël se profesie inskop. In die profesie (Daniël 9), word belangrike tye ook gegee wat verdere duidelikheid gee.
Ou Testamentiese Profete
My volgende stap was om op datum te kom met wat die dissipels tot op daardie punt in tyd geweet het. As hulle die agtergrond van Daniël gehad het, moes hulle ook geweet het wat die ander profete oor die eindtyd te sê gehad het. Ek het profesie begin deurwerk en een term wat op hierdie stadium vir my begin uitstaan het was die verwysing na die Dag van die Here of die Dag van Sy wraak. ‘n Vraag wat begin opkom het, was “wanneer is die Dag van die Here” en hoe pas dit in die gebeure in. Baie teoloë verwys na die volle 7 jaar tydperk as die Dag van die Here, maar dit het nie gestrook met dit wat ek tot dusver ontdek het nie. Die profesië was almal eenstemmig met die natuurverskynsels in hierdie tyd. Jesus verwys na presies dieselfde natuurverskynsels in Mattheus 24. Hy haal dit op in vers 29 en begin Sy sin met: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae“. As ek reg onthou, het ek op hierdie punt besef dat die verdrukking en die Dag van die Here nie dieselfde ding is nie. Ek het ook ontdek dat dit wat ons na verwys het as die groot verdrukking, ook nie ‘n tydperk van 7 jaar was nie. Die groot verdrukking het eers begin nadat die Antichris sy gruwel opgerig het. En volgens Daniël het dit eers drie en ‘n halwe jaar in gebeur.
Nuwe Testamentiese Apostels
Nadat ek deur al die profesieë in die Ou Testament gewerk het, het ek gereed gevoel om te kyk wat die Apostels gesê het. Baie nuwe lig het bygekom. Ek het besef dat selfs hulle verwys na die Dag van die Here, iets wat ek nog nooit tevore opgelet het nie. Vir die eerste keer het ek besef dat hierdie Dag ‘n sleutel is om die eindtyd te verstaan. Miskien het ek dit al die jare gemis, maar die boeke en leringe wat ek bestudeer het, het bitter min klem gelê om die gebeure, rede en uitwerking van die Dag van Here te verduidelik. Dít, terwyl daar Skrif op Skrif is, Ou en Nuwe Testament, wat daarna verwys.
Laastens, Openbaring
Teen hierdie tyd, het ek ‘n taamlike idee gehad van hoe dit tydlyn kon lyk. Ek was 100% oortuig dat tot en met die Bybelboek Judas, daar geen verwysing is na ‘n wegraping voor die groot verdrukking nie. Vir my het dit gevoel asof ek nou saam met Johannes die openbaring van Jesus Christus en dit wat sou gebeur, kon bestudeer. Ek het toe begin om die gebeure en verskynsels in Openbaring te koppel aan dit wat die profete en apostels gesê het. Teen hierdie tyd het my legkaart al goeie vorm aangeneem en kon ek met redelike sekerheid die tydlyn en gebeure verstaan.
Haal af jou bril
Ek glo dat ‘n groot sleutel om hierdie gebeure te kan verstaan, die vermoë is om ons bril en filters van vorige kennis te kan afhaal. Wanneer ons daarin kan slaag om met die verwondering van ‘ek hoor dit vir die eerste keer’ die Skrifte eerlik te ondersoek, sal ons by die waarheid uitkom. Ons lees in Spreuke 25:2, “Dit is die eer van God om ‘n saak te verberg, maar die eer van konings om ‘n saak na te speur.” Elkeen van ons moet as konings in God se koninkryk, sake naspeur. Die eindtydgebeure-sake is nie so diep weggesteek soos wat ons dink nie. Dis eintlik so logies en voor die handliggend. Die Vader wil hê dat ons elkeen dit moet verstaan. Daarom het Jesus sonder gelykenisse dit stap vir stap verduidelik. Hy het nie in raaisels gepraat en dit gekompliseerd gemaak nie. Ek glo dis die vyand wat vir ons die waarheid wil verbloem en dit onmoonlik laat lyk.
Soek vir jouself
Die belangrlikste is dat elkeen vir onsself moet seker wees wat ons glo en hoekom ons dit glo. Ons kan nie staatmaak op andere se boeke en leringe nie. Dis wonderlik dat boeke en leringe bestaan, maar dit mag nooit ons eie studie vervang nie. Omdat die studie van die eindtyd vir baie mense oorweldigend lyk, deel ek graag my pad, metode en bevindinge. Ek hoop dit help jou, maar moenie net my woord hiervoor neem nie. Moet my ook nie afskiet voordat jy vir jouself seker gemaak het nie. Kol 1:9b … om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig…
Uitkoms:
Ek dink dis regverdig om ‘n baie kort slotsom te gee sodat elke leser verstaan waarheen hierdie studie werk. Die klem is op baie kort. Ons sal deur die details werk in die studies wat volg. Daar gaan ‘n wegraping plaasvind. Die Skrif noem dit die versameling (gathering of the saints). Ek glo nie dit gaan lyk soos die Amerikaanse fiksie reeks dit uitgebeeld het nie. Jesus se koms is nie in twee dele verdeel nie. Daar is geen Skriftelike grond hiervoor nie. Die wegraping gaan NIE voor die groot verdrukking plaasvind nie, maar wel voor die groot en deurdugte dag van die Here, die dag van Sy wraak.
Die dele wat volg
Ek wil baie graag dit wat ek ontdek en bestudeer het, deel. My aanslag gaan stadig en deeglik wees. Ek gaan my bes probeer om al die Skrifte in te sluit sodat jy ‘n geheelbeeld kan kry. Vir hierdie rede gaan daar ‘n hele paar dele wees wat volg. Die beste sal wees om dit in volgorde deur te werk.

